Kayak Company Logo Picture Gallery
Click Here to watch the trip video
Do Something Different in Cape Town
Paddle the warm waters of False Bay with us and we'll show you some amazing things. We offer trips from the sedate to the adventurous but our most popular trip is to visit the penguins at Boulders Beach.

We paddle every day of the year, weather permitting - not just the summer. The winter months are also wonderful for paddling because winter has more calm windless days than summer and on those days it is absolutely beautiful. Plus there is always a chance of seeing whales.


ARTICLE FROM DIE BURGER NEWSPAPER

Kyk pikkewyne vanaf kajakke

SIMONSTAD-SEILJAGHAWE. Kaapse Skiereiland. 10:00.

Op ’n perfekte somersdag klim ’n agttal binne- en buitelandse besoekers op kajakke. Die doel? Om die pikkewyne op ’n oorspronkliker manier te sien.

Geen kompetisie met toerbusse om parkeerplek en geen lang rye met temende kinders nie – slegs jy, jou roeigenoot en die rustige waters van Valsbaai om ’n bietjie gesonde avontuur in die fotogeniese natuur te geniet.

Derek Goldman is aan die spits van sake en boonop een van die spitsvondigste gidse wat ’n mens kan raakloop. Danksy sy jare lange ervaring en passie vir kajaksport (hy besit ook die kajakwinkel op die dorp) stel hy almal gou-gou gerus, gee basiese opleiding, reddingsgordels, water en sjokolade. Die groot kajakke is uiters stabiel en almal vind spat-spat hul roeiritme.

Ons beweeg deur die hawe en bekyk die nuwe korvette terwyl Derek agtergrond-inligting gee, voëls uitwys en ironiese humor aanwend om almal se aandag te behou. Hy skerts met ’n paar op ’n seiljag vir wie dié dag duidelik wasdag is. “Wat verwag julle?” roep hulle terug. “Ons het pas van Suid-Amerika geseil!”

Jong robbe flap-flap hul vlerkagtige voorpote in die lug by die punt van die kaaimuur. Die water is groenblou, helder en (vergeleke met die ander kant van die Skiereiland) tropies warm.

Ons stoot ons voetgedrewe roer en almal kies koers stuurboord se kant toe, rigting groot rots naby die hawe, ook bekend as Ark-rots. Danksy die skoon lug kan ons dwarsoor die baai sien tot waar ’n paar pragtige wolkformasies met die berge speel. Derek vertel meer oor die geskiedenis van Simonstad en verduidelik die oorsprong van die baai se naam. Die Portugese het dit eerste gekarteer en die korrekte vertaling sou eintlik “verkeerde baai” wees – nie “valsbaai” nie.

By die granietrotse op die strand by Boulders staar die pikkewyne na die toeriste en die toeriste na hulle. Volgens Derek het die broeikolonie maar eers sowat 25 jaar gelede daar begin en so gou tuis gevoel dat selfs die paar motorongelukke waarin hulle betrokke was, hulle nie onder kon kry nie.

Bedags swem hulle rond in groepe as hulle vir kos jag, byna soos mini-bendes met koddige klere. Hulle voel vere vir mense op land, maar skrik vir alles onder water – behalwe die klein vissies waarvan hulle leef.

Ons het gesien, gestaar en foto’s geneem, dus roei ons na die baie rustige, byna versteekte, Water’s Edge-strand. Derek tower snorkeltoerusting uit sy bagasieruim waarmee ons seewier en –gras asook verbasend baie visse, anemone en ’n paar skulpdiere van nog nader kan beskou.

Terug by die hawe vertel hy hoe hy die gejaagde lewe van ’n rekenaarfirma verruil het om dié kalm, indien ongewone, sportsoort na te jaag.

“My leuse is: Dis die oseaan, waarom dit verspil?”

Volgens hom dink die meeste mense die kajakke (waarvan die oorsprong na die Inuïte [voorheen “Eskimo’s” genoem] van die yskoue Arktika teruggevoer kan word) is onstabiel. “Maar as hulle eers opklim, vind hulle gou uit dis die teenoorgestelde. Dis boonop ’n unieke manier om die kus te verken.”

Hy reken die beste tyd vir die kajakritte is in die winter wanneer die water oor die algemeen kalmer is en besoekers selfs walvisse kan sien. “Vir die meer sportiewes is winderige dae goed, want dan is dit amper soos om branders te ry.”

Derek bied ook ander kajaktoere aan: van die hawetoer vir diegene wat eers hul seevoete wil vind tot uitgebreide toere in die Skiereiland wat verskeie dae van roei beloof.

“Ek sou graag wou sien dat die kajaksport gewild word in die land,” verwoord hy sy droom.

’n Droom waarvoor hy al beslis suksesvol sweet getap het, soos die toename in kajakke aan die Suid-Afrikaanse kus getuig.

Vir inligting, raad en antwoorde op moontlike kwelvrae, sien die webtuiste www.kayakcapetown.co.za

En laaste woord: The Meeting Place-restaurant oorkant die hawe het fantastiese geregte – jou beloning vir ’n oggend se sagte werk..?

Sybrandus Adema is werksaam in Die Burger se nagkantoor.

ORIGINAL: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2007/01/23/BB/8/SAkajak.html

 

CONTACT

Sea Kayak Trips
Wharf Street, Simons Town
info@kayakcapetown.co.za

+27 (0)82 501 8930

FACEBOOK

            TRIP ADVISOR


Copyright 2013 Kayak Cape Town. All Rights Reserved. Web development by CL Purvis